Oor Ons
'n Sentrum gebou op groei, geloof en gemeenskap.
Waarom Jakaranda Akademie bestaan
Jakaranda Akademie bestaan vanuit die oortuiging dat elke leerder uniek is en dat daar nie net een manier is om te leer, te groei en sukses te behaal nie.
Nie alle leerders pas altyd perfek in die tradisionele 'skool-boksie' nie. Sommige kinders leer teen 'n ander tempo, floreer in 'n kleiner omgewing, het meer individuele aandag nodig of benodig eenvoudig 'n plek waar hulle kan leer op 'n manier wat by húlle pas. Dit beteken egter nie dat hulle minder bekwaam is of minder potensiaal het nie.
By Jakaranda Akademie glo ons dat daar 'n plekkie vir elke leerder is.
Ons wil 'n veilige, ondersteunende en gestruktureerde omgewing skep waar leerders hulself kan wees, waar hul unieke sterkpunte raakgesien word en waar hulle die geleentheid kry om akademies, emosioneel en persoonlik te groei.
Jakaranda Akademie bied aan leerders die ondersteuning en leiding wat hulle nodig het om hul opvoedkundige reis met selfvertroue aan te pak. Ons wil nie kinders in 'n boks probeer pas nie — ons wil die boks groter maak sodat daar plek is vir elke kind.
Ons glo in Groei, Geloof en Gemeenskap. Ons glo dat elke leerder 'n doel het, dat elke kind se potensiaal ontwikkel moet word en dat geen leerder ooit moet voel dat daar nie 'n plek vir hom of haar is nie.
Drie woorde wat alles rig
-
Groei
Elke leerder vorder teen sy eie pas, met doelwitte wat haalbaar en meetbaar is.
-
Geloof
'n Christelike waardestelsel wat rigting gee aan hoe ons leer, werk en mekaar behandel.
-
Gemeenskap
Tuisskool hoef nie eensaam te wees nie. Hier is 'n groep wat saam werk en saam vier.
Die mense agter die sentrum
Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.
Spreuke 22:6