Beleide

Ons beleide en ooreenkomste — lees dit hier of laai dit af as PDF.

Die Afrikaanse weergawe van elke beleid is die amptelike en bindende weergawe. Vertalings word slegs vir gerief verskaf.

AKADEMIESE BELEID

Laai PDF af

1. Doel van die Beleid

Die doel van hierdie beleid is om 'n gestruktureerde, verantwoordbare en akademies uitnemende leeromgewing te skep waarin elke leerder die geleentheid kry om sy of haar volle potensiaal te ontwikkel.

Jakaranda Akademie volg die MOS-onderwysmodel, waar die fokus op bemeestering van kennis en vaardighede, persoonlike verantwoordelikheid en selfstandige leer val.

2. Akademiese Beginsels

Jakaranda Akademie verbind hom daartoe om:

  • Akademiese uitnemendheid na te streef.
  • Elke leerder volgens sy/haar vermoë te ontwikkel.
  • 'n Positiewe leeromgewing te skep.
  • Eerlikheid en integriteit in alle akademiese werk te bevorder.
  • Selfstandige leer en verantwoordelikheid aan te moedig.

3. Die Rol van die Personeellid

Die betrokke personeellid is verantwoordelik om:

  • Akademiese leiding en ondersteuning te bied.
  • Te verseker dat die leerder verstaan wat van hom/haar verwag word.
  • Die leerder aan te moedig om werk betyds af te handel.
  • Gereeld die leerder se vordering te monitor.
  • Toe te sien dat assesserings en take betyds voltooi en ingehandig word.
  • Ouers betyds in kennis te stel indien 'n leerder akademies sukkel of nie aan vereistes voldoen nie.

Personeellede mag ondersteuning, verduidelikings en leiding gee, maar mag nie werk namens 'n leerder voltooi of antwoorde verskaf wat die leerder se onafhanklike leerproses benadeel nie.

4. Die Verantwoordelikheid van die Leerder

Elke leerder onderneem om:

  • Gereeld en stiptelik klas by te woon.
  • Daagliks verantwoordelikheid vir sy/haar leer te neem.
  • Take, assesserings en projekte betyds te voltooi.
  • Vrae te vra wanneer hulp benodig word.
  • Respek teenoor personeel en mede-leerders te toon.
  • Akademiese eerlikheid te handhaaf.

Selfstandige Werk

Omdat Jakaranda Akademie die MOS-stelsel volg, is dit 'n kernbeginsel dat:

  • Elke leerder 100% sy of haar eie akademiese werk voltooi.
  • Alle assesserings, take, projekte en eksamens die leerder se eie werk moet wees.
  • Geen ouer, tutor, familielid, vriend of enige ander persoon die werk namens die leerder mag voltooi nie.
  • Personeel leiding mag gee, maar nie die leerder se antwoorde mag voorsê of die werk namens die leerder doen nie.

Die doel hiervan is om ware begrip, onafhanklikheid en verantwoordelikheid te ontwikkel.

5. Die Rol van Ouers

Ouers speel 'n belangrike ondersteunende rol deur:

  • 'n Geskikte leeromgewing tuis te skep.
  • Hul kinders aan te moedig om verantwoordelikheid vir hul werk te neem.
  • Gereeld met personeel te kommunikeer.
  • Nie akademiese werk namens hul kinders te voltooi nie.
  • Die sentrum se akademiese beleid te ondersteun.

Ouers mag leiding gee, konsepte verduidelik en aanmoedig, maar die finale werk moet deur die leerder self gedoen word.

6. Assessering

Assessering vind plaas deur middel van:

  • Formatiewe assesserings.
  • Summatiewe assesserings.
  • Projekte.
  • Praktiese take.
  • Toetse.
  • Eksamens.
  • MOS-assesserings soos voorgeskryf.

Alle assesserings word volgens die vereistes van die toepaslike kurrikulum en MOS-riglyne voltooi.

7. Sperdatums

Leerders moet:

  • Alle werk teen die voorgeskrewe sperdatums indien.
  • Personeel vroegtydig in kennis stel indien buitengewone omstandighede die voltooiing van werk beïnvloed.
  • Begryp dat laat indiening akademiese gevolge kan hê, tensy vooraf goedkeuring verkry is.

8. Akademiese Eerlikheid

Jakaranda Akademie handhaaf 'n beleid van nulverdraagsaamheid teenoor akademiese oneerlikheid.

Dit sluit onder andere in:

  • Plagiaat.
  • Kopiëring.
  • Bedrog tydens assesserings.
  • Vervalsing van werk.
  • Die indiening van iemand anders se werk as eie.
  • Onbehoorlike gebruik van kunsmatige intelligensie (AI).

9. Gebruik van Kunsmatige Intelligensie (AI)

AI-hulpmiddels, insluitend ChatGPT en soortgelyke platforms, mag slegs gebruik word indien:

  • die onderwyser dit uitdruklik toelaat; en
  • die gebruik daarvan eerlik erken word.

'n Leerder mag nie AI-gegenereerde antwoorde of werk as sy of haar eie indien nie.

AI behoort gebruik te word as 'n hulpmiddel om begrip te verbeter en nie as 'n plaasvervanger vir eie denke of eie werk nie.

10. Akademiese Ondersteuning

Leerders wat akademiese uitdagings ervaar, kan ondersteuning ontvang deur:

  • Individuele begeleiding.
  • Gereelde terugvoer.
  • Samewerking tussen personeel en ouers.
  • Kontak met MOS-personeel op MOS se aanlyn-platvorm te behou

Hierdie ondersteuning mag egter nooit die vereiste van onafhanklike werk vervang nie.

11. Bevordering

Leerders word bevorder volgens:

  • Die vereistes van die toepaslike kurrikulum.
  • Die MOS-riglyne.
  • Die Departement van Basiese Onderwys se bevorderingsvereistes waar van toepassing.

12. Kommunikasie met Ouers

Jakaranda Akademie sal:

  • Gereelde akademiese terugvoer verskaf.
  • Vordering rapporteer.
  • Ouers betyds kontak indien akademiese probleme ontstaan.
  • Ouervergaderings reël wanneer nodig.

13. Slotverklaring

Jakaranda Akademie glo dat ware leer plaasvind wanneer 'n leerder verantwoordelikheid neem vir sy of haar eie ontwikkeling.

Deur hierdie beleid te onderteken bevestig die leerder en ouer dat hulle verstaan dat:

  • personeel die leerproses ondersteun en monitor;
  • ouers die leerproses ondersteun;
  • maar die leerder alleen verantwoordelik is om sy of haar akademiese werk self te voltooi, soos vereis deur die MOS-onderwysmodel.

14. AKADEMIESE EREKODE

Jakaranda Akademie is gebou op die waardes van eerlikheid, integriteit, verantwoordelikheid en uitnemendheid. Elke leerder dra persoonlik verantwoordelikheid vir sy of haar eie akademiese ontwikkeling.

As leerder van Jakaranda Akademie onderneem ek dat ek:

1. Alle akademiese werk eerlik en met integriteit sal voltooi.

2. My take, assesserings, projekte, toetse en eksamens self sal doen.

3. Nie iemand anders se werk as my eie sal indien nie.

4. Nie antwoorde sal kopieer of aan ander beskikbaar stel om te kopieer nie.

5. Geen vorm van plagiaat of akademiese bedrog sal pleeg nie.

6. AI-hulpmiddels, insluitend ChatGPT of soortgelyke programme, slegs sal gebruik wanneer dit deur die betrokke personeellid toegelaat word, en die gebruik daarvan eerlik sal erken.

7. Begryp dat die doel van die MOS-onderwysmodel is om my eie kennis, vaardighede en karakter te ontwikkel, en dat niemand anders my werk namens my mag voltooi nie.

8. Verantwoordelikheid sal neem vir my eie leerproses deur betyds te werk, hulp te vra wanneer ek dit nodig het en my beste poging met elke taak te lewer.

9. Personeel, mede-leerders en die akademiese proses met respek sal behandel.

10. Die goeie naam van Jakaranda Akademie deur my akademiese optrede sal beskerm.

Erekodeverklaring

Ek verstaan dat eerlikheid en integriteit die grondslag van akademiese sukses is.

Ek onderneem om alle akademiese werk selfstandig en eerlik te voltooi, volgens die vereistes van die MOS-onderwysmodel en die Akademiese Beleid van Jakaranda Akademie.

Ek aanvaar dat enige oortreding van hierdie Erekode dissiplinêre gevolge kan hê.

WhatsApp ons